Musiekgeskiedenis (akademies)

'n Bekende guqin uit die Tang Dinastie. Die guqin is sedert die antieke tye bespeel, en is tradisioneel deur kenners en literati as 'n baie verfynde instrument beskou.

Musiekgeskiedenis, soms historiese musikologie genoem, is die hoogs diverse subterrein van musikologie, wat musiek uit 'n geskiedkundige hoek bestudeer. In teorie kan "musiekgeskiedenis" na die studie van die geskiedenis van enige musieksoort of -genre (bv. die geskiedenis van Indiese musiek of rock) verwys. In praktyk word hierdie navorsingsonderwerpe dikwels as deel van etnomusikologie of kultuurstudies gekategoriseer, ongeaf of hulle etnografies gebaseer is. Die terme "musiekgeskiedenis" en "historiese musikologie" verwys gewoonlik na die geskiedenis van die genoteerde musiek van die Westerse elite.

Die metodes van musiekgeskiedenis behels bronstudies (veral manuskripstudies), paleografie, filologie (veral tekstuele kritiek), stylkritiek, historiografie (die keuse van historiese metode), musiekontleding en ikonografie. Sommige van die intellektuele produkte van musiekhistorici sluit in uitgawes van musikale werke, biografieë van komponiste en ander musikante, studies van die verhouding tussen woorde en musiek, en nadenke oor musiek se plek in die samelewing.


Developed by StudentB